Kinderland
Sou daar in my wonderwêreld
soms nog kinders kaalvoet klouter
opdraand teen die taaibosrand?
Pluk hulle bessies, skilpadbessies,
donker-rooies, bruines, geeles,
nou nog in my kinderland?
Geur dit nog van peperbossies
en renoster - waar die aarde
ooplê teen die hemelrand?
Hoe verleë dool ons dikwels
mymerend deur die verre strate,
moeg van stad en stadskoerant;
Hunkerend tussen die skare
eenling, eensaam in ons wese,
ver van huis en kinderland!
***
Die Veles
Hulle leef op skuld
tot Vrydagaand,
en tot die einde van die maand;
Gaan goed gekleed, soos wie weet wie -
trakteer mekaar op simpatie;
Ontspan by voorkeur
in die fliek,
Dans dol op radiomusiek;
Sing luidkeels Sondae in die kerk,
Vloek roekeloos Maandae by die werk;
Doen siektes op,
en word gesond -
Gaan tog maar môre weer te grond;
Teel kleingoed by die tros, en stort
g'n traan oor wat van hulle word!
Die jare gaan,
die jare kom;
Hulle mors die Tien Gebooie om -
Trek kort op sestig pensioen,
en raak met God en mens versoen.
***
Sydney Vernon Petersen (S. V. Petersen) is op 22 Junie, 1914, te Riversdal in die suid-Kaap gebore, die tweede kind en oudste seun van die gesin. Sy vader was 'n tuiemaker en sy moeder 'n huishoudster. Al hul kinders het onderwysers geword.
Sydney en sy sibbe het die plaaslike sendingskool in Riversdal bygewoon. Hy skryf reeds poësie op laerskool, maar droom daarvan om 'n skilder te word. Op twaalf stuur sy ouers hom Kaapstad toe waar hy Trafalgar Hoërskool bywoon en uitblink as atleet. In 1932 en 1933 woon hy die Battswood Opleidingskollege by waar sy opleiding in Engels behartig is.
Sy eerste onderwyspos is in Ladismith, maar in 1939 is hy terug Kaapstad toe om in Distrik Ses skool te hou. Hy loop klas buitemuurs aan die Universiteit van Kaapstad en behaal 'n BA-graad met Afrikaans, Engels, en Wiskunde as hoofvakke. Hy trou met die onderwyseres, Mavis, en hulle kry 'n seun, ook Sydney, wat later 'n argitek word.
In 1944 verskyn sy eerste digbundel, Die Enkeling. In 1947 stig S. V. Petersen Athlone Hoërskool met 87 leerlinge en dien as skoolhoof tot en met sy aftrede in 1974.
Petersen was 'n besige en berese man. Hy het die V. S. A., Brittanje, Duitsland, Nederland, Ghana, Griekeland, Israel, en Turkye besoek. In die V. S. A., waar hy voorlesings van sy werk gedoen het, het sy gashere vir hom 'n tikmasjien gekoop nadat hulle sien hy skryf alles met die hand.
Sy gedigte sowel as kortverhale verskyn in tydskrifte soos Naweek, Suid-Afrika, en Die Huisgenoot. F. E. J. Malherbe beskryf Petersen se gedigte as “...te eenvoudig, te rou” maar die Afrikaanssprekende publiek wil nie ophou daarvan lees nie, kan nie genoeg van sy ryme kry nie. George Manuel beskryf weer Petersen se gedigte as “...meesterstukke, duidelik, vloeiend, en beskrywend.” In 1948 verskyn S. V. Petersen se tweede digbundel, Die Stil Kind en Ander Verse wat E. van Heerden motiveer om te skryf dat Petersen “...se hantering van die taal te lukraak is” en B. Kok voeg by dat Petersen “...worstel met sy vormgewing.” In 1965 verskyn S. V. Petersen se befaamde digbundel, Suiderkruis, wat W. E. G. Louw erken hy “...verskeie kere gelees en weer laat lê het” en dat Petersen in daardie bundel “...minder verbitterd is.”
Met sy daaropvolgende digbundels, Die Kinders van Kain, Alleenstryd, en Nag is Verby, het Petersen vorentoe getree as 'n Afrikaanse digter in eie reg, op eweknie met die wit digters van sy tyd. Hulle het sy werk gendadeloos gekritiseer: “...skraal bundeltjie”, “...yl gedigte”, “...allerlei insinkings en verslappings”, “...kleurlose weergawe”. Ondanks die kritiek en moeilike omstandighede onder Apartheid, het die vlam van Petersen se bekendheid as digter hoër gebrand. Die publiek het hom klaar verwelkom, sy digkuns waardeer. In 1986 verskyn sy laaste digbundel, Laat Kom dan die Wind wat D. Hugo beskryf as “...anachronismes van 'n ou man” met “...verouderde temas.”
Op 30 Oktober, 1987, sterf S. V. Petersen in Groote Schuur-hospitaal weens nierversaking. Ná sy afsterwe, ontvang hy ereburgerskap (postuum) van Riversdal saam met Alba Bouwer en Dalene Matthee. In 1989, saai die SAUK 'n radio-hoorbeeld uit genaamd “Kind van die Dal.” In 1997, sing die sopraan, Zanne Stapelberg, twee van S. V. Petersen se gedigte: Kinderland en Die Veles.
Die laaste woord behoort aan S. V. Petersen wat steeds 'n baanbreker en die onwrikbare held van bruin, Afrikaanse digkuns beskou word:
Die Loper
Nie meer die hoë dunk van dié
wat vinnig hom vooruitloop nie.
In so 'n wedloop móét hy faal
om selfs die geringstes in te haal.
Mens ding, wie weet, vergeefs nog mee;
en moet jou beurt gewonne gee.
Nou hoor hy stap-stap agter hom
'n menigte wat nader kom -
en dit by sy wete in:
Die sleeptou kan my nog oorwin!
Hy loën die lopers op sy spoor,
en trap die trap van dié daarvoor.
Hierdie gedigte is die eiendom in die geheel en die oorspronklike werk van Sydney Vernon Petersen (S. V. Petersen) en mag nie, sonder erkenning aan / van die digter en skrywer, aangehaal, herhaal, of gebruik word nie.

Comments
Post a Comment