“Maans se Dolfyn” deur Nico H. Kisting

Ek sit en vroetel hier rond op my foon. Die huis is grafstil, almal slaap, die honde ook. 
     Ek probeer my oë moeg maak laat ek kan uitstaan Klaas Vakie se land toe. Ek sit en maak sommer my foon skoon en hier kom ek af op 'n 2021 herinnering van 'n “my verhaal”. Dis soos 'n WhatsApp-status wat net vir 24 ure verskyn voor dit heeltemal verdwyn.
     Ek kom af op 'n kennisgewing vir Ant' Sofie en 'n liggie gaan sommer aan in my kop, my eie tydreismasjien skakel aan en voer my terug in tyd. 
     Ons het in die “Klaskamers” gebly, soos ons dit self gedoop het. Dis nou maar één ding van my ma se kinders: Ons gee 'n ding 'n naam sodat almal op dieselfde golflengte is wanneer ons geselskap hou. Dit was glo eens op 'n tyd rêrige klaskamers wat later as wooneenhede uitverhuur is. Deesdae is dit die Katolieke jeugsentrum. Die gebou is op 'n bult skuins bo Dr. Hennie van Wyk se kasarm van 'n huis, naby Dolphin Fish & Chips, of “Dolfyn” in ons gebietstaal. Ek sal verder net na Dolfyn verwys, 'n bekende baken vir die inwoners van Rehoboth. 
   Agter die Klaskamers was 'n klein lokasie, of informele nedersetting, met sinkhuise - Rehoboth se eie weergawe van 'n “ou lokasie”. Die inwoners is ook later onseremonieel vandaar verwyder en Blok E toe verskuif, wat toe alreeds 'n handvol mense gehuisves het. 
     Dolfyn was Oom Pieter en Ant' Sofie McNab se winkel. Dit sien deesdae heelwat anders uit as dourie tyd waarin ek nou wandel. Die winkel is min of meer dieselfde grootte met 'n outydse herehuis sowat vyftien treë agter die winkel op dieselfde erf geleë, Porra-styl - ons bly waar ons werk. 
     Ek was daai tyd alreeds 'n stuurding want my generasie se kinders was stuurgoed. Geen teëpratery, één bevel, dan moet jy maak laat jy gaan en so spoedig moontlik terugkom. Ek moes heuwel-af van die Klaskamers se hoogtetjie en die nasionale pad oorsteek om by Dolfyn uit te kom. Die nasionale pad was daai jare nie so besig soos nou nie. As kind was dit vir my maklik omdat Daantjie Kat ons elke jaar by die skool gehoorsaamheid aan padreëls geleer het. Kyk éérs links, dan regs, dan wéér links, en as daar geen motors aankom nie, steek jy die pad flink oor! Dis 'n deuntjie wat by ons ingedril is en wat ons nou getrou oordra aan ons nasate. Ek was op-en-kieps op daai gebied; g'n motor sal my tref nie. 
     Die eerste keer toe ek saam met my ma by Dolfyn instap het die grootmense mekaar gegroet soos mense wat mekaar ken. Met die terugstap huis toe het my ma mooi verduidelik hoe die lem in die hef steek. Sy het gesê Oom Pieter is Oom Basie se oom, en ek het beaam. Ek onthou vir Oom Basie, Jürgen se pa. Ek onthou méér vir Oom Basie want Dadda Mantas het tydens 'n onderonsie in hul kindertyd Oom Basie se neus gegryp en gedraai dat die wit goed só uitkom. 
     Antie Sofie, het my ma gesê, is Oom Mike se suster. Ek het weer beaam. Ek ken ook vir Oom Mike want hy is pappa se neef en Ebbie en Lalla se pa. Ek het nooit aan Ant' Sofie as my pa se niggie gedink nie; ek weet net sy is my pa se neef se suster. Ek peuter nie verder nie.
     Ek het die hoof stuurding geword want ek ken mos nou al die gate. 
     Oupa Dawid bly by ons nadat hy op 89 geval en sy heup gebreek het. Ek was sy leidsman en moes hom help as die natuur roep en dan skuif ons stadig buite-toilet toe. Saans staan die nagemmer gereed. Hy het “plate en skroewe ingekry” en toe wonder ek hoe hy hulle ingesluk gekry het. In my tyd moes jy met drie-woord-half-sinne en gemompelery dinge maar self uitpluis want herhaal was uit soos bokmis in 'n skaapkraal. Jy vra nie onsinnige vrae nie en jy klim ook nie 'n grootmens se eer in nie. Ken jou plek!
    Ek loop my eie voetpaadjie Dolfyn toe en terug. Ek word nogal 'n bekende klant met 'n naam: Maans. Ant' Sofie en Oom Pieter het seker nie tyd gehad om “Manus” te sê nie want hulle was óf baie besig of het half gehoor. Ek aanvaar dit want dis al wat 'n kind kan doen - aanvaar. 
     Op 'n keer sien ek 'n klong in die winkel rondtrippel. Hy vat 'n lekker hier, vat 'n sap daar, en ek hoor hulle noem hom “Baba.” Ons sou later groot tjommies word en klasmaats in Standerd 9 omdat hy my pa se neef se suster se kind is. 
     Dolfyn het altyd 'n spesiale reuk gehad. Dis 'n kafee reuk wat ek al op Kalkrand by Mouties van Oom Sakkie en Antie Toelietjie, en by Aurora Kafee van Oom Petrus en Antie Ponna geruik het. Dis 'n mengsel van iets soet, laventel, viooltjies, slaptjips, en Lennon se medisyne. My reuksintuig is só skerp ingestel, ek kon die Vicks ruik, kougom, toffie, hotnosklontjies, soethout gevleg soos telefoondrade, en ronde, swart lekkers. Ek kan dit tot vandag toe ruik - daardie reuk van lekkers en gelukkigheid. Ek het geruik en Baba het gekou. 
   Oom Pieter het 'n ligbruin Toyota HiAce-kombi gehad waarmee hy geop-en-af het in Rehoboth se strate. Jare later het ek hom ook by Rio Monte Hotel gesien en gedog hy soek seker boegoe-brandewyn want boegoe is mos goed vir verkoue en so aan. Oom Pieter het ook karatelesse by die stadsaal bygewoon, hy en Baba. Ek het eenkeer saam met Keff en Slen gegaan en vir Loenie en sy Russell ook daar gekry waar die manne hul witpakbewegings gedoen het. 
     Eendag sou Oom Pieter glo in die hof verskyn weens aanranding nadat hy blykbaar 'n Blok E-inwoner gevang het steel in sy winkel en hom hande opgelê het. Die verrinneweerde klaer het getuig dat Oom Pieter hom glo “gekarate” het. Die voorval het Rehoboth se strate bereik en in 'n gebietsgrap ontaard wat om elke braaivuur, drinkring of kuile-kuier deur die beste grapjas voorgedra is en almal van die lag laat skater het. 
     Ant' Sofie was egter die hartklop van Dolfyn. Sy was heeldag op-en-af soos sy die winkel en haar werkers bestuur het. Ek het gedink Baba eet elke aand slaptjips. Dolfyn was 'n goudmyn want dit was die laaste stop vóór die volk naweke plaas toe gaan. Dit was tjok-en-blok vol naweeksaande. Vis, slaptjips, russians was die ideale padkos vir kort ente. 
    Ant' Sofie en Oom Pieter se oudste dogter, Julie, sou later geleidelik Dolfyn se leisels by hulle oorneem toe Vader Tyd hul energie begin oes. Ek sou net dan en wan hul ander dogter, Annette, ook sien en dink: My pa se neef se suster het darem 'n mooi dogter! Dan was daar Don, my senior in my eerste jaar op Dr. Lemmer Hoërskool. 
     Groot gebou soos hy was, het Don 'n barshou gehardloop. Daar was 'n klein hekkie naby die 120-meter merk by die atletiekbaan en toe ek eendag by die hekkie inkom, hoor ek Don se dondervoetslae kom om die draai en sulke klein stofwolkies bly hang waar sy spykerskoene die kleigrond getref het. Ek het jare later presies dieselfde geluid gehoor as groot Bernard Malgas ook daai draai gevat het! Don is nie lank ná skool Kanada toe, waar hy steeds woon, dink ek.
   Ek en Baba was saam in Standerd 9 en ek was elke dag verseker van my twee los Chesterfield-sigarette want sy ma was mos immers my pa se neef se suster en daar was liefde tussen ons. Lank vóór dit was ek in sy sokkerspan en het ons gereeld in Dolfyn se jaart teen die Oelfies gespeel. Hulle s'n was daardie tyd nog 'n outydse huis vóór hulle 'n dubbelverdiepinghuis gebou het. Ons het lekker dae in daai jaart gehad en die 5c se viskrummels het ook lekker afgegaan. 
     Ek is in die vroeë negentigs uit Rehoboth, sy stof van my voete afgeskud, en aanbeweeg. 
     Ant' Sofie het vir Dolfyn verkoop nadat Oom Pieter oorlede is. Besigheid het voortgegaan en Mnr. Cloete, die nuwe eienaar, het gebou op Oom Pieter en Ant' Sofie se nalatenskap. Rehobothers is 'n unieke gemeenskap wat soms super lojaal kan wees en Dolfyn het daarby gebaat - vandag nog!
    Ek het vir Ant' Sofie baie jare daarna, in 2014, by 'n liefling niggie se sestigste verjaarsdag weer ontmoet waar Julie haar vergesel het. Ons het mekaar hartlik gegroet, omstandigheidsnavrae gedoen en toe groet sy my met: 
    “Pas jou op, Maans.”
     Haar woorde was warm en liefdevol. Sy is immers my pa se neef se suster - my tante, my pa se niggie. Hulle is verewig in my hart: Oom Pieter, Ant' Sofie*, en Dolfyn.

© Nico Hermanus Kisting (2026)


*** 
*Mev. Sofie McNab is in 2021 oorlede.      
  

Comments